Jan Rhaap is bekend vir sy oorspronklike Afrikaanse musiek wat hy so eerlik en opreg as moontlik skryf en sing. Jan het begin om opskudding in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf te maak met die vrystelling van sy debuutalbum “Laaste Kans”.
Die liedjieskryfproses is baie belangrik vir Jan en hy skryf graag oor dinge en mense wat hy in sy eie lewe ervaar en beleef. As jy hou van rou en eerlike musiek, soek nie verder as Jan Rhaap nie.
Jan Rhaap is ‘n selfopgeleide kitaarspeler wat bekend is vir sy rasperstem. Die Afrikaanse pop-rock sanger/liedjieskrywer is gebore Werner Burger in 1983 in Pretoria, Suid-Afrika. Nadat hy sy skoolloopbaan in Pretoria voltooi het, het hy sy BSc (Agric) graad in Veekunde verwerf aan die Universiteit van Pretoria. Daarna het hy in die landbousektor gewerk totdat hy in 2012 voltyds op sy musiekloopbaan begin fokus het. In 2014 het hy deurgebreek met sy debuutalbum, ”Laaste Kans,” ‘n versameling liedjies wat sy kwesbaarheid ten toon gestel het. Treffers oor die jare soos, “Ramskilpad”, “Huisie in die bos”, “Kom Loop”, “Jan ek kan nie dans nie”, “Jagvat” en “Plaaskind” het die kunstenaar se reputasie as ‘n uitstekende storieverteller bevestig.
Vandag bly en boer Jan Rhaap saam met sy broer en pa in die Noord Kaap, waar hy saam met sy vrou en twee kinders bly op die plaas. As hy nie tussen sy vee is nie, sal jy hom beslis met sy kitaar in sy hand, êrens op ‘n verhoog kry, besig om sy passie vir musiek uit te leef.